Die “wonderpil”

Die moderne wêreld is bekend vir sy materialistiese siening van tyd: “tyd is geld”.  Dit het ‘n groot invloed op die lewenstempo van elke dag  – alles moet met haas gedoen word want anders mors ‘n mens tyd.  Kortpaaie word vir alles uitgedink.  Wanneer mense siek is, skryf die dokters medikasie voor wat die probleem vinnig aanspreek en die simptome dadelik wegneem – geen tyd mag verlore gaan nie.

Verder wil mense nie pyn of ongemak verduur nie.  Farmaseutiese en mediese navorsing soek ywerig na wondermedisynes vir die genesing van ondermeer die groot bedreigings soos kanker, vigs, diabetes en hartaanvalle.

Die goeie nuus is dat daar baie en effektiewe medisynes gedurende die afgelope eeu ontdek en gemaak is – baie pyn en lyding is daardeur verlig en daarvoor kan ons net dankbaar wees.  Dit is byvoorbeeld vir my ondenkbaar om ‘n tand te laat trek sonder die moderne verdowingsmiddels en pynstillers.
Die slegte nuus is dat hierdie kitsmedikasie nie regtig genees nie maar slegs die simptome verlig.  Dit is net die ingeskape genesingskrag in die liggaam wat werklike genesing kan teweegbring.  Die meeste medisynes het gevaarlike newe-effekte en behoort slegs in ernstige situasies en dan vir ‘n beperkte tyd gebruik te word.  In plaas daarvan om die liggaam te genees, plaas medisynes dikwels ‘n groter las op die liggaam wat juis werklike genesing kan teëwerk;  ons moet besef dat die oorgrote deel van medisynes chemies van aard is en daarom vreemde elemente vir die liggaam.

Hoe kan ons werklike genesing beleef?  Ten eerste is dit nodig dat persepsies moet verander.  Ons moet besef:

  • dit is nie ‘n liggaam wat genesing nodig het nie maar ‘n persoon – daar moet ‘n holistiese benadering wees;
  • niemand kan regtig in alle aspekte van die lewe gesond wees nie want dan was so-iemand volmaak;
  • genesing is ‘n lewenslange proses wat nooit eindig nie maar wat kan lei tot geweldige groei in lewenskwaliteit;
  • genesing van ‘n bepaalde probleem neem tyd want die liggaam moet sigself herstel en triljoene nuwe selle vorm.  Om dit te kan doen, moet die liggaam van die beste roumateriaal voorsien word soos vars lug, suiwer water, voedsame kos en ‘n positiewe ingesteldheid met positiewe denke en woorde;
  • elkeen moet verantwoordelikheid neem vir sy of haar eie gesondheid en nie probeer om die verantworodelikheid op iemand anders te laai nie – die geneeshere is slegs daar om jou te help in jou eie reis na gesondheid en kan nie daarvoor verantwoordelik gemaak word nie.

Daar is nie ‘n kortpad nie!  Daar is geen wonderpil vir genesing nie!

Om prakties te raak:  wanneer jy ‘n akute en dringende probleem het, gee dadelik aandag aan daardie simptome wat die lewe baie moeilik of ondraagbaar maak en gebruik die nodige medikasie slegs om dit so vinnig moontlik te verlig.  Indien nodig, maak jou mediese dokter jou spanmaat en leer uit sy/haar kennis en wysheid.  Maak self jou keuses.  Moenie voorskrifte aanvaar sonder om te weet wat die newe-effekte is nie.  Probeer dan uitvind wat die wortel van die probleem is en verander onmiddelik jou lewensstyl of omstandighede wat die siekte tot gevolg gehad het.

Indien jy ‘n kroniese probleem het, moenie medisyne as die oplossing beskou nie; om die waarheid te sê, as jy tans medikasie gebruik, neem ‘n besluit om so gou as moontlik daarmee op te hou, indien moontlik – langdurige gebruik is giftig en maak werklike genesing onmoontlik.  Dit is net ‘n radikale lewensstylverandering wat jou kan help.  Indien nodig, maak ‘n holistiese natuurlike geneser jou spanmaat en verkry insette van sy/haar wysheid en kennis of kry behandeling van ‘n praktisyn op die gebied van aanvullende genesing soos ‘n refleksoloog of ‘n masseur.

You must be logged in to post a comment.