Wie is vir jou verantwoordelik?
In ons samelewing dink mense maklik dat ander vir hulle verantwoordelik is: die predikant of pastoor is verantwoordelik vir hulle geestelike lewe en die dokter vir hulle gesondheid. In die praktyk het ek dikwels ervaar hoe mense van jou as medemens verwag om hulle probleme op te los en dan terugsit en kyk wat die resultaat is van mý pogings!
Gelukkig is daar mense wat opgelei en toegerus is om mense in hulle probleemsituasies te help. Hulle verantwoordelikheid is om te help. Hulle is egter nie vir jou en my verantwoordelik nie.
Kyk na die terrein van gesondheid. Die mense wat die gesondste is en bly en wat uiteindelik die beste lewenskwaliteit geniet, is diegene wat self verantwoordelikheid vir hulle gesondheid neem. Mens kan nie maar jou liggaam afbreek deur onverskillig te lewe en dan wanneer die siektes kom, verwag dat die dokter al die skade van jare se afskeep moet inhaal nie.
- Die eerste stap tot verantwoordelikheid is ’n besluit om van nou af jou gesondheid op te pas en te verbeter.
- Die tweede stap is om kennis in te win oor jou spesifieke behoeftes deur boeke te lees of op internet inligting te soek (nie enige opinie nie maar gegronde, wetenskaplike inligting).
- Die derde stap is om jou lewenstyl aan te pas in die lig van die kennis wat jy opgedoen het: nou verander jy jou daaglikse program sodat daar tyd vir rus, ontspanning, stil word en oefening is. Verder skakel jy enige onnodige stressors uit en begin jy om stres reg te hanteer. Jy kyk veral na die kos wat jy eet en sorg dat jy gemorskos vermy en genoeg voedingswaarde inkry. Jy begin genoeg suiwer water drink.
- Die vierde stap is om na jou verhoudingslewe te kyk: swak of gebroke verhoudings het ’n baie nadelige uitwerking op die liggaam.
- Die vyfde stap is slegs nodig wanneer daar probleme opduik wat nie reageer op die voorafgaande aanpassings nie – jy nader ’n kundige soos ’n mediese dokter, ’n berader of ’n fisioterapeut (of enige ander persoon wat op ’n bepaalde terrein hulp kan verskaf) om deel te word van jou span en te kom help. Hierdie persoon werk vir jóú en word daarvoor betaal. So iemand gee hulp maar neem nie jou verantwoordelikheid oor nie! Sulke spanwerk het goeie resultate: die betrokke kundige voel nie oorlaai nie; julle neem saam besluite en jy is gewillig om jou heelhartige samewerking te gee!
