Stagnasie in die geloofsgesin

‘n Geloofsgesin wat ontrou raak aan sy bestaansdoel, stagneer.  Die bestaansdoel van die geloofsgesin word duidelik in die gesinsverklaring verwoord, naamlik dat ons aan mekaar verbind is
” … om Hom te loof en te eer;
om mekaar onselfsugtig te dien;
en om in gehoorsaamheid aan Hom sy beeld verder uit te dra, sodat ander Hom as Vader kan leer ken.”

Drie probleemareas
Wanneer ons stagnasie in die geloofsgesin beleef, lê die probleem by een of meer van hierdie drie elemente.  Kom ons kyk kortliks daarna.

  • Eerstens kan dit in die geloofsgesin gebeur dat Jesus nie meer as die middelpunt van die geloofsgesin en lede se lewens geëer word nie.  Dit gaan dus nie meer oor die lof en eer van God nie.  Wanneer dit gebeur, het ons verval in ‘n vormgodsdiens wat leeg en betekenisloos is.  Die fokus verskuif algaande wég van Jesus na  gewone mense.  Ons begin dit van ménse verwag om van die verhoudingservaring ‘n sukses te maak.  Hierdie klemverskuiwing word veral sigbaar in ‘n vervlakking in die geloofsgesin se gebede.  Biddeloosheid is ‘n teken daarvan dat mense dink hulle het die Here nie meer nodig nie.  Hulle kan nou op hulle eie talente, vermoëns en persoonlikhede staatmaak om die geloofsgesin te laat groei.
  • Dit gebeur egter ook dat lede van die geloofsgesin net na hulself omsien, terwyl hulle hul in die gesinsverklaring daaraan wy om mekaar te dien.  Hierdie mense raak nukkerig en gefrustreerd as húlle belange nie in die geloofsgesin voorop gestel word nie.  Hier is dit belangrik dat die herder sal aanhou om ‘n dienskneg-leier te wees, soos Jesus ons geleer het.  Sommige herders mag die geloofsgesin opeis vir eie eer en besit.  So ‘n geloofsgesin sal moeilik diens-aan-mekaar aanleer en waarskynlik stagneer.
  • Derdens gebeur dit baie maklik dat ons  vergeet dat ons doel op aarde is om die liefde van Jesus aan ‘n verloregaande wêreld te vertoon.  Die simptome is opvallend.  Hierdie geloofsgesin is voortdurend gerig op die bevrediging van hulle eie grille, is kieskeurig oor wie mag inskakel, en vertoon heelwat weerstand teen vermenigvuldiging.  In plaas daarvan om na buite te leef, mense in te trek en dan te vermenigvuldig, is hulle doodgelukkig om dieselfde groepie te bly. Hierdie is niks anders as ongehoorsaamheid aan die Here se opdrag in Matteus 28: 18 tot 20 nie.  Die uiteinde van hierdie selgemeente is stagnasie.

Ander simptome

Daar is nog ander simptome van ‘n stagnante geloofsgesin wat ook opgenoem kan word. Die geloofsgesin word byeenkoms-gerig en die geestelike familiebande word afgeskeep omdat dit opoffering vra.  Die geloofsgesin se
byeenkomste raak toenemend ‘n formele program.  Hulle wil net die “sakelys” so gou moontlik afhandel, sodat hulle kan verdaag. Daar is min of geen sensitiwiteit vir die leiding van die Heilige Gees en mense se behoeftes nie.  Konflik word vermy of nie met ‘n gesindheid van liefde en nederigheid hanteer as ‘n groeigeleentheid nie.  Leierskap word weer heerskappy in plaas van liefdesdiens.

Indien jy dalk van hierdie simptome in julle geloofsgesin herken, moet jy let op die gevaarligte.  Hoe voorkom ‘n mens stagnasie? Dit beteken eenvoudig dat die geloofsgesin moet ontwikkel in lyn met sy gesinsverklaring.  Gesels dus gereeld oor hierdie verklaring, sodat almal dit verstaan en moedig mekaar aan om dit te leef.  Waar selfsugtige motiewe kop uitsteek, moet dit aangespreek word.  En onthou, die Heilige Gees is die Gees van lewe.  Waar sy leiding gehoorsaam gevolg word, sál ‘n selgemeente nooit stagneer nie.

Tobie van Schoor  ( Uit “Ter Sprake” )  Aangepas.

You must be logged in to post a comment.