Die rol van die predikant
Oorspronklik: “Die rol van die predikant in ‘n gemeente wat ‘n verhoudingskerk word”
1. Die predikant moet ‘n duidelike visie hê van die Here se doel met die gemeente en moet dus weet waarheen om medegelowiges te begelei. Hy moet biddend die Heilige Gees se leiding soek en volg in die stelselmatige infasering van die nuwe visie.
2. Sodra hy met ‘n geloofsgesin begin, fokus hy op verhoudings:
- hy begin self om innige verhoudings te bou met die gesinne in die geloofsgesin sodat hulle as ‘n geestelike familie kan funksioneer
- hy doen in hierdie gemeenskap totaal afstand van sy titel aangesien daar in ‘n huisgesin geen titels onder broers en susters gebruik word nie
- hy leer om soos ‘n gewone mens saam met die ander te leef. Hy moet sy behoeftes en probleme algaande aan die ander bekend maak sodat hulle hom en sy huisgesin ook kan ondersteun en opbou.
3. Terselfdertyd modeleer hy as herder van die eerste geloofsgesin ‘n nuwe soort leierskap. Hy soek na geleenthede om sy medegelowiges in die geloofsgesin te dien en hy bid getrou vir elke persoon, groot en klein, by die naam. As voorbeeld vir die ander, maak hy vriende met ‘n ongelowige gesin of mense met ‘n vreemde of heidense godsdiens. Hy poog om die liefde van Christus uit te leef na hierdie mense toe en wanneer daar ‘n goeie geleentheid kom, vertel hy van sy Verlosser en sy liefde.
4. Die eise van die nuwe struktuur:
- Om hierdie rol te modeleer, sal ektra tyd van die predikant vra. Waar sal dit vandaan kom? Elke predikant weet wat dit is om gedurig met skuldgevoelens te worstel aangesien daar altyd meer te doen is as wat menslik moontlik is. Een van die grootste foute wat ‘n predikant kan maak, is om aan al die menslike verwagtings te probeer voldoen en sy verhouding met die Here en sy huisgesin af te skeep. Die verwagtinge van kerklidmate is deur die tradisie gevorm en is selde in ooreenstemming met die wil van die Here.
- In tydsbeplanning gaan dit om prioriteite: wat regtig belangrik is, kom altyd eerste. Wat Christus in sy gemeente gedoen wil hê, is altyd prioriteit nommer een! Die vorming van die eerste geloofsgesin en die in-diens-opleiding van die herder is van allergrootste belang vir die toekoms van die verhoudingstruktuur. Hierdie gelowiges is ook die geestelike huisgesin van die predikant en sy gesin – daar moet tyd aan afgestaan word.
- In die beplanning van die weeklikse program behoort spesifieke tyd vir die opbou van geloofsgesinne opsy gesit te word. Dit word ‘n belangrike afspraak soos wat ‘n vergadering een is. Elke Donderdag tussen 19:30 en 22:00 kan byvoorbeeld hiervoor gebruik word.
- Namate die verhoudingstruktuur groei, behoort die predikant ‘n al-groter-wordende snit van sy tyd aan die nuwe struktuur af te staan. Die tradisionele struktuur kan nie verwaarloos word nie, maar dit is belangrik dat alle onnodige dinge wat tyd opslurp, uitgesny moet word.
5. Die voordele van die nuwe struktuur:
- Vir die eerste keer is daar nou ‘n ondersteuningstruktuur vir die predikant en sy gesin. Omdat die geloofsgesin as ‘n huisgesin funksioneer, leef daar ‘n paar gesinne met die predikant en sy gesin saam en hulle kan as gewone mense aanvaar en met gebed en bemoediging – en selfs vermaning – ondersteun word.
- Die geloofsgesin bied ruimte vir geloofsgroei. Die predikant leer ook uit die ander gelowiges se ervarings en uit hulle gawes wat hulle van die Heilige Gees ontvang het. Hy kan nou vry word van die bomenslike verwagtings rondom die predikant en weer soos ‘n gewone feilbare mens tussen ander mense lewe.
- Die onderlinge pastoraat wat in die geloofsgesin plaasvind, bring met die loop van tyd ‘n verligting in die taak van die predikant. Wanneer daar baie geloofsgesinne tot stand gekom het, is daar soveel onderlinge ondersteuning dat die predikant nie meer gesien word as die algemene sieketrooster nie. Nou kan hy almeer doen waarvoor hy opgelei is – die hantering van gevalle wat nie deur die geloofsgesinne hanteer kan word nie.
- In die verhoudingskerk is daar ‘n ingeboude stelsel van kontrole wat uitstekend werk. Dit is nie kontrole van bo af asof die predikant of die kerkraad in beheer moet wees nie maar liefdeskontrole van mense met herdersharte wat die gelowiges ondersteun. Hulle is volledig op hoogte van alles wat aan die gang is omdat daar sulke intense persoonlike verhoudingstrukture is.
- In plaas van die domineeskerk waar een persoon betaal word om al die werk te doen, bring hierdie visie ‘n magdom van medewerkers. Alle gelowiges en kinders in geloofsgesin sien hulself as betrokke in die koms van die koninkryk.
6. Probleemareas:
- Netsoos die lidmate, is talle predikante beïnvloed deur ‘n kerkbegrip met Roomse trekke en hulle kom moeilik daaruit. Afgesien daarvan dat hulle op hoogte moet kom van die nuutste navorsing in die teologie, moet hulle ook ‘n paradigma-skuif (verandering in perspektief) ondergaan en dit neem tyd.
- Sommige gemeentelede se verwagtings van die predikant is deur die kultuur bepaal en kom nie uit die Bybel nie. Dit bring konflik wanneer die kerkraad Bybelse beginsels wil toepas.
- Die predikant is dikwels bang dat hy die koninkryk skade sal aandoen indien hy nie mense tevrede stel nie – onthou dat hy nooit almal tevrede kan stel nie want daar is meer as een sentiment onder die lidmate.
- Predikante is soms bang dat die mense sy menslikheid en swakhede sal sien. Dit bring die vrees dat dit sy invloed in die gemeente kan wegneem.
- Sommige predikante worstel met persoonlikheidsprobleme soos ‘n swak selfbeeld. Die gesagsposisie van die tradisionele predikantsamp was ‘n beskermende faktor wat in die moderne samelewing wegval. Die “gesagsposisie” word met die koms van die nuwe struktuur verder afgebreek.
